C
CORNELISSEN
EST. 1750

Stamboek Cornelissen

Die genealogiese rekord van die Cornelissen familie vanaf 1750

Familie Inligting

Die van Cornelissen

Cornelissen is ontleen aan Cornelis, en beteken eenvoudig "seun van Cornelis". Die oorspronklike vader (Cornelis) en sy seun (Cornelissen) moes dus darem goed bekend gewees het anders sou so 'n verwysing geen sin gemaak het nie.

Die eienaam Cornelis is weer afgelei van die Latynse Cornelius, wat op sy beurt afgelei is van CORNU of horing. Die Cornu in Latyn versinnebeeld krag, en as naam vervat dit dan die wens: mag die kind wat dié naam dra, sterk wees. Moontlik kan ons dus sê Cornelissen beteken seun van die horing, of seun van krag.

Spellingvariasies

Die lang van het vir die skrywers van die 18de eeu baie probleme opgelewer sodat daar in die ou argiewe talle spellings bestaan. Die volgende spellings is opgeteken:

CORNELIONS, CORNELSE, CORNELUSEN, CORNIELSE, CORNELISSE, CORNELISE, CORNEILSEN, CORNELESSEN, CORNELISZ en CAROLISSEN.

Cornelissens uit die Vroeë Geskiedenis

In Suid Afrika is die draers van die van skaars, veral as in gedagte gehou word dat die van reeds vanaf 1652 telkens in Van Riebeeck se Dagverhaal vermeld word.

Onder die eerste 9 vryburgers wat in 1657 toegelaat is om as selfstandige boere 'n bestaan te probeer maak, was daar twee Cornelissens nl. die matroos WARNAER Cornelissen en die soldaat Jacob Cornelissen. In dieselfde jaar het Jacob saam met Abraham Gabbema deel gehad aan die ontdekking van die Paarlvallei.

Die Stamvader: Lourens Cornelissen

STAMVADER LOURENS, of Laurens Cornelissen het waarskynlik in 1750 in die Kaap aangekom, en wel uit Denemarke; Kopenhagen, die hoofstad, word aangegee as sy geboorteplek.

As soldaat het hy in diens van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie getree. Hy verskyn in 1750 op die diensstaat van die Kompanjie met die rang van "Bosschieter". Hy word later bevorder tot "constabelmaat" (1754) en tot "constabel" of kanonnier in 1755. In 1781 word hy "extra-vuurweker" en in 1785 word hy bevorder tot artillerie-offisier met die rang van Luitenant.

In 1755 tree hy in die huwelik met Johanna Goosen. Laurens en sy vrou het 12 kinders gehad.

In die huweliksregister van die gemeente Kaapstad, 26 Oktober 1755:
"Alhier getroud Lourens Cornelisz van Coppenhagen, constapel in dienst der B. Comp., jongman, met Johanna Goosen van Cabo die Goede Hoop, jonge dochter."

Die Plaas Grootberg

Die Kaapse Akteskantoor meld dat die plaas Grootberg op 15 Maart 1844 deur sir George Napier aan Cornelis Petrus Cornelissen toegeken is. Die grootte word aangegee as 12 743 morg en die jaarlikse huur bedra R6,20.

Volgens oorlewering het hy R300 betaal aan Engelbrecht vir die plaas. Die plaas was waarskynlik in besit geneem in 1834-1835 en het die sentrum van die Namakwalandse tak van die familie geword.

Dokumentasie

Hierdie familiegegewens is gebaseer op gegewens deur familielede self verstrek, gepubliseerde en argivale bronne.

Oorspronklike samestelling: P. J. CORNELISSEN, Paarl, Desember 1976
Uitgawe 4: 29 Junie 2007 - Opgedateer en gerekenariseer deur Marius Cornelissen

Inleiding

"Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het, want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig."
— Jesaja 51:1 en 2

Dit pas ook ons om te weet uit watter rots ons gekap is, en te onthou dat 5-6 geslagte ons reeds vooruit gegaan het, en dat ons vandag hier is juis omdat hulle daar was - een keer 'n onmisbare skakel in die geskiedenis van die Cornelissens, soos wat elkeen van ons weer 'n skakel sal wees vir die geslagte wat na ons sal kom.

Kontak

Vir navrae, korreksies of bydraes tot die stamboek:

Web Admin